Harley Owners Group Limpopo

HOG ® Limpopo Chapter #9939
Events
West Coast Touring Rally
WHERE: Lambertsbaai, West Coast Rally
Wat meer kan ek sê!!? Dit was ‘n fantastiese, wonderlike trip.
23
Oct
2018

Wat meer kan ek sê!!? Dit was ‘n fantastiese, wonderlike trip. Elke oomblik was spesiaal. Ons het ‘n pragtige land – elke gebied is uniek. Op ons Harleys, saam vriende, is dit nog meer spesiaal.

Aanvanklik is ons 12 Harleys (16 toerlede) wat mekaar kry op Dinsdag 23 Oktober by The Ranch Caltex vulstasie. Leon & Marina ry net saam tot op Lichtenburg. So begin ons reis van meer as 4 300 km. Die eerste 2 dae is die weer nog koud in die oggende, lekker in die middae, maar van die 3de dag af word dit baie warm – tot 41.5 ‘C. Ons stop kort-kort by oulike plekkies, slaap by amazing gastehuise langs die pad, eet soos konings en drink wyn soos fynproewers. Elke aand om ‘n braaivleisvuur of saam om ‘n lang vriendskapstafel dink ons na oor die dag se gebeure en kies ons saam die dag se “dweepie” – dis die een wat die dag ons die meeste laat lag het, of iets snaaks aangevang het – die dweepie moet dan die warm pienk mus dra tot die volgende aand. Dit was voorwaar pret. Ons beleef saam benoude oomblikke soos toe die verkeerspolisie ons naby Olifantshoek aftrek, konsuis omdat al 11 motorfietse nie die regte nommerplate het nie. Na ‘n half uur se mooi praat, kan ons uiteindelik weer in die pad val. Rachel wat sonder brandstof gaan staan en Mike wat deur ‘n by gesteek word … Op Augrabies sien ons ‘n pragtige sonsondergang met die kokerbome in die voorgrond en dit was volmaan – met die maanlig wat glinster op die Noord Kaap klippe…. Op Pofadder eet ons lekker ontbyt. Doringbaai is asemrowend mooi met die blou Atlantiese Oseaan en wit seemeeue – hier vier ons Ben Pretorius se verjaarsdag. Op Lambertsbaai bly ons in die pragtige Grootvlei Gasteplaas. Die Weskus Rally begin by die legendariese Muisbosskerm, met kos uit die boonste rakke. Met die baie warm terugrit deur die Karoo, spring ons almal, met Linda aan die voortou, op Williston se “Mall” se yskoue dam, klere en al, in. Wat ‘n lafenis!! Die Karoo is warm, die pad is lank, windpompe en skape is volop. In Victoria Wes by die Merino Junction wag hulle ons in met koue bier en lugverkoelde kamers. Ons eet Karoo skaaptjops en kuier lekker saam. Karen wys ons weereens dat ons Afrikaner vroue sterk is, toe sy die meer as 600 km tussen Victoria Wes en Kroonstad olik op haar bike kan bly. Saam is ons so dankbaar dat sy gou weer op en top is na ‘n nag se veblyf in die hospitaal. Ons groet mekaar weer almal by The Ranch Caltex naby Polokwane. Wat ‘n trip! Ons is so dankbaar dat ons dit saam kon voltooi, dat ons veilig was en memories kon maak wat ewiglik deel van ons sal wees. Baie dankie aan Johann en Linda Liebenberg, vir die puik reëlings, leierskap en omgee.

Kathleen Breytenbach
HOG Limpopo Photographer & Editor